AfriSake BLF

AfriSake oorweeg regstappe om ’n interdik teen Black First Land First (BLF), Andile Mngxitama (leier van dié beweging) en Lindsay Maasdorp (nasionale woordvoerder) te bekom ná oproepe aan sy ondersteuners en lede van die publiek om onbeboude grond onwettig te beset.

 

Die besigheidsregwaghond het oor die afgelope maande heen nuusberigte op verskeie media dopgehou en glo dat dit genoeg bewyse het om met toepaslike regstappe voort te gaan om dié aanhitsing tot geweld en grondbesetting in die kiem te smoor.

 

“Ons kan nie stilsit en dié kommentaar en oproepe ignoreer nie. Net soos in die geval van Julius Malema en die EFF sal ons ’n hof nader om ’n soortgelyke interdik teen Andile Mngxitama, Lindsay Maasdorp en die BLF te bekom. Mngxitama en Maasdorp behoort in persoon aanspreeklik gehou te word omdat hulle mense tot die pleging van dié tipe misdade aanhits,” sê Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake.

 

Die BLF het onlangs ook onder skoot gekom nadat hulle die publiek en hul ondersteuners aangehits het om protesaksies te loods en joernaliste te intimideer wat volgens die BLF sogenaamde “wit- monopoliekapitaal” bevorder. Dit is egter duidelik dat die BLF nie ’n organisasie is wat op die beginsels van demokrasie gebou is nie, maar eerder op geweld en intimidasie sonder enige agting of respek vir die grondwetlike regte van mense.

 

“Die BLF se dade is niks meer as strafregtelike dade nie en moet dienooreenkomstig gestraf word. Die groep is nie eens as organisasie, politieke party of maatskappy geregistreer nie en is eerder ’n kwaadwillige rassistiese groep. Hul menings en standpunte kom neer op die aanhitsing van haatmisdade teen ’n minderheidsgroep in Suid-Afrika. Enigeen het die reg om te betoog en ’n mening te huldig, mits dit nie teen die grondwetlike regte van ander mense indruis nie,” sê Charles Castle, bestuurder van die arbeidsregadvieseenheid by AfriSake.