Eskom laat Suid-Afrika in die steek - AfriSake

AfriSake sal ingryp as Eskom die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) nader om elektrisiteitstariewe nogmaals te verhoog. Eskom en munisipaliteite het elektrisiteispryse onlangs tot buitensporige tariewe verhoog en nou wil Eskom dit met ’n verdere 20% verhoog.

“Suid-Afrika is tans in ’n tegniese resessie. Verbruikers, en veral die kleinhandelsmark, byt die spit af van die swak implementering van ekonomiese beleide en die wydverspreide korrupsie in alle staatsektore in Suid-Afrika. Om van landsburgers te verwag om al minder krag te gebruik, maar meer per eenheid te betaal, is verregaande. Eskom moet hom eerder aan die naburige Zimbabwe onttrek en al sy hulpbronne in Suid-Afrika belê,” sê Charles Castle, bestuurder van die AfriSake arbeidsregadvieseenheid.

Eskom word tans deur aantygings van bedrog, korrupsie en wanadministrasie in die gesig gestaar en moet verantwoordbaar gehou word. Landsburgers kan nie aanspreeklik gehou word vir topbestuur se flaters en ondeurdagte “Zupta”- handelinge nie.

“AfriSake het onlangs ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (No. 2 van 2000) (PAIA) aansoek gedoen om sekere inligting rakende Tegeta se verkryging van die Optimum steenkoolmyn van Glencore te bekom. Eskom het geen inligting verskaf nie, daarom is AfriSake genoop om ’n hofaansoek in hierdie verband te bring. Dit kan direk verband hou met die tariefverhoging, omdat Eskom poog om sekere inligting oor die verkryging van steenkool en die betaling van steenkoolverskaffers te verdoesel,” sê Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake.

Nog tariefverhogings sal lei tot verlies van meer werksgeleenthede. Die ekonomie is reeds stram en die werkloosheidsyfer is al meer as 27%. Deur elektrisiteitstariewe verder te verhoog, sal Eskom die armstes van die armes ekonomies nog verder benadeel.

Die publiek kan die sakeregtewaghond AfriSake se pogings ondersteun deur ʼn SMS met die woord “Eskom” na 42310 te stuur (R1 per SMS).